Sunday, August 18, 2019

Vir Die Linkses

Op Dinsdag, 13 Augustus 2019, het die wêreld hulde gebring aan die linkshandige mense wat uit so om en by 10% van die wêreldbevolking bestaan. Die “southpaw” soos wat ons almal in Engels bekend staan. Die term “ons” beteken ook dat ek ook deel is van die 10% wat ook ‘n pen of potlood of mes of vurk sal vashou met haar linkerhand. Ja, ek is linkshandig en raar as die virtuele wêreld op jou rekenaar, of foon, of tablet dit so kan stel. Dit beteken nie dat ek op enige goeie dag iets is van die duiwel is nie, soos mense in die donker tydperke verstaan het nie.

Die linkses moet ongelukkig en meestal aanpas by die aspekte van die regshandige mense. Skryfbehoeftes soos skerre is gemaak vir die regshandige mense. Rekenaar toerusting soos die muis is ook gemaak om vir die regshandiges te werk. Ek is genadiglik geseend dat ek kan sny (en hopelik reguit ook) met my regterhand en ek gebruik die muis met my regterhand, maar somtyds kry ek dit reg om die rekenaar se muis te gebruik met my linkerhand ook, wanneer ek besig is op die telefoon of met iets anders. Anders as dit skryf ek met my linkerhand totdat daar blou of swart inkmerke oorbly op my linkerhand.

As ‘n linkshandige kind was dit moeilik vir my om aan te pas op ‘n manier. Die onderwysers het my ‘n harde tyd gegee en een van hulle het my skoolhandboeke summier aan my regterkant gesit en dit terwyl ek so gewoond geraak het dat dit aan my linkerkant was. Ek het sowat 7 of 8 jaar gelede op ‘n skoolrapport afgekom waar die onderwyseres my goeie punte gegee het vir harde werk en toewyding, maar ongelukkig vir my nie so ‘n goeie merk gegee met my potlood greep nie want dit was volgens haar “onkorrek” gewees. Dit is my effens seergemaak toe ek dit lees, maar genadiglik het my ouers my nie gedwing om regs te skryf of my greep op die potlood te verstel nie.

My potlood greep is nogsteeds nie korrek nie, maar dit pla my wraggies nie want ek kan letters en syfers neerpen soos enige ander normale mens op hierdie planeet. Ek kan darem hierdie inskrywing ook skryf totdat my kant van die hand blou is van die blou pen wat ek vashou.

Ek is in baie goeie geselskap wanneer dit kom by die linkses. Barack Obama, Prins William en Oprah Winfrey is mense wat hul handtekening met  hul linkerhand maak, asook Bill Gates en Benjamin Franklin. Ek is in meer goeie geselskap om te weet dat van my familielede en vriende ook linkshandig is.

Ons linkses is skaars, maar kreatief, kunstig, talentvol en slim. Ons is maar ‘n “rare spesie” in ‘n wêreld van die regshandiges, maar ons is deel van die wêreld. In die ou dae was daar gediskrimineer teen ons, maar in vandag se tye is dit heel normaal om linkshandig te wees. Ons verdien so ‘n dag soos die 13de Augustus om ons uniekheid te vier aan wêreld.



Saturday, August 10, 2019

Heldinne

Dit is hierdie maand Vrouemaand. ‘n Maand waar ieder en elke liewe vrou van elke liewe kleur en geur waardeer word vir die werk wat hulle doen en al die eer verdien vir die verskil wat hulle in lewens van mense maak. Sterk vroue word gevier in hierdie maand van Augustus. Ongelooflike vroue wat hulself sal agteroor buig om ‘n daadwerklike impak te hê op die samelewing wat in so ‘n gemors is vandag.

Vir my is heldinne nie vroue wat soos superhelde tussen geboue rondvlieg en mense red van die bose gedoentes wat nie welkom is op planeet aarde nie. Of wat ook al superhelde veronderstel is om te doen om die planeet van die bose te red. Want sulke vroue bestaan net in storieboeke wat jy te siene sal kry in Bargain Books in die kinderafdeling.

Heldinne is vroue wat hulself daar buite sal kry om ‘n verskil te maak in mense se lewens. Wat mense opvoed en leer. Wat mense gesond maak. Wat mense help wat in die moeilikheid is. Daar was ‘n brief wat in Maart 2013 in Die Burger verskyn het wat deur ‘n Ma van ‘n dogter geskryf was. Die Ma het genoem in haar brief dat vroue in vandag se tyd al hoe meer onafhanklik raak en “sukkelend swaar pakkies aandra”, “staan en karre was”. Daar was vrouens wat na gevaarlike plekke gaan om ‘n verskil te maak in ander se lewens. In die brief getiteld ‘n Ope Brief aan Enkellopende Mans wonder hierdie moedertjie hoekom vroue (en mans) enkellopend is.

‘n Mens kan sekerlik dieselfde vraag vra in 2019 ook? Dit is juis omdat die tye so baie verander het dat vroue vandag die geleentheid gegun is om uit hul pad uit te gaan om ‘n verskil te maak. Al is dit nou om jong mense op te voed oor die gevare van die lewe of om kospakkies en klere te skenk vir minder bevoorregte kinders. Die verskil in lewens van mense is gemaak en dit is al wat saak maak.

Vir my is heldinne vroue wat organisasies stig om minder bevoorregte mense te help en ‘n verskil te maak in hul lewens. Dit is vroue wat opstaan vir slagoffers van geweld en vir hulle die stem gee wat hulle nodig het. Dit is vrouens wat vreesloos is en nie bang is om daardie reëlboek van menslike standaarde ‘n stewige skop uit die venster te gee nie. Heldinne is sterk vroue wat nie bang is om uit te gaan en ‘n verskil te maak nie.

Heldinne kom in vorms van dokters, prokureurs, onderwysers, maatskaplike werkers en verpleegters. Of wat ook al jou beroep is in vandag se tye. Heldinne is vrouens wat nie-winsgewende organisasies begin en mense inlig oor die ernstige feite van geweld en mishandeling teen vroue en kinders. Dit is vrouens soos Mev. June Steenkamp wat in haar dogter se herinnering die Reeva Rebecca Steenkamp Foundation gestig het, en Kathy Cronje, die direkteur van The Safe House Trust van Kaapstad wat skuiling bied vir slagoffers van mishandeling
.
Dit is diè heldinne van die samelewing en die mensdom wat al die eer en waardering verdien vir Vrouemaand. En dit is sterk en brawe vroue wat hard werk om die verskil te maak vir wie ek die grootste respek het wat hulle toekom.



Friday, August 9, 2019

Meghan Cremer

Dit is vandag 9 Augustus 2019. Vrouedag word op hierdie dag in Suid-Afrika gevier. Gewoonlik op so ‘n dag vier ek dit met koffie, sjokolade, so vier of vyf chick flicks en ‘n inspirerende boodskap of twee op sosiale media platforms. Ek doen my deel om elke vrou spesiaal te laat voel met mooi boodskappe en bemoedigende woorde. Dit gee vir my die aanmoediging wat ek soms nodig het om deur enige iets te kom waardeur ek gaan.

Ek glo vroue speel ‘n baie groot rol in Suid-Afrika. Hulle is ons moeders, susters, niggies, oumas en vriendinne. Hulle is ons onderwysers, verpleegsters, dokters, prokureurs, en mense wat sal uitgaan om ‘n verskil in mense se lewens te maak wat nie baie het in die lewe nie. Daar word meer en meer gesê dat Suid-Afrika baie meer sterk vroue nodig het om vegters te wees en vas te staan vir waarin hulle glo.

Vir my was gister nie ‘n baie aangename dag nie. Als wat kon skeefgeloop het, het skeefgeloop. Dank die Vader dit is ‘n vakanasiedag, het ek vanoggend gedink toe ek my oë oopgemaak het agtuur. Ek het darem ‘n goeie nagrus gehad na ‘n baie slegte dag. Dit is een troos daaraan verbonde. Maar ongelukkig kan ek nie my slegte dag vergelyk met diè van Meghan Cremer se familie en vriende nie. Want Meghan is nie meer met ons nie. Sy is nie meer met die vroue van Suid-Afrika nie.

Meghan lyk is gevind Donderdagoggend in ‘n vlakgraf by Philippi, Kaapstad  nadat sy op 3 Augustus vermis geraak het. Haar motor is ‘n paar dae nadat sy vermis geraak het, gevind met drie verdagtes wat in hegtenis geneem is. Die drie verdagtes het intussen in die hof verskyn Donderdag nadat haar lyk gevind is.
Ek doen nie hierdie inskrywing omrede dat ek ‘n baie slegte dag gehad het nie.

Die stukkie raad van dat jy eers moet diep asemhaal, wag en bid voordat jy woorde spreek of skryf is gewoonlik baie waar, dus hoekom ek vandag gebruik om dit te skryf. Om dinge net bloot uit ‘n beter perspektief te skryf.

Ek was gister baie onsteld gewees oor die nuus van Meghan se moord. Baie kwaad. So kwaad dat ek myself op sosiale media gewend het en die drie moordverdagtes slegte dinge toegewens het. Dit is beslis elke Suid-Afrikaner se gevoel vandag en ook gister gewees toe die nuus bekend geword het. Ek was net baie kwaad gewees omdat ek op daardie tydstip gevoel het dat dit een vrou net te veel gewees het.

Ek het vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd die gevoel van haat ervaar. Van moedeloosheid. Van magteloosheid. Elke negatiewe gevoel wat jy ooit kan aan dink het ek ervaar. Laas toe ek die gevoel van haat ervaar het was toe Courtney Pieters se lyk op 13 Mei 2017 in Epping gekry het. Ek het ook op daardie dag nie juis ‘n goeie dag gehad nie want dit was op die dag veertien jaar vantevore dat ek byna my lewe verloor het in ‘n inbraak in my ouerhuis.

Philippi, waar Meghan se lyk gevind is, is basies ‘n klipgooi van my af. Ek bly nie so ver van die area af nie. Die feit dat Meghan vermoedelik in die area vermoor is het my bang gemaak eers. Dit het my laat besef dat elke jong vrou, soos ek basies nog baie weerloos is en ‘n maklike teiken daarby ook. Almal is weerloos in Suid-Afrika. Daar is geen uitsondering nie.

Meghan Cremer se moord het die hele Suid-Afrika geskok. Nie net vir my of net ‘n paar mense nie. Ek bedoel almal. Almal is kwaad. Vroue is bang en voel baie weerloos. Almal is woedend. Almal is hartseer. Dit was vir ons almal net een slagoffer te veel gewees. Ons almal sal nooit veilig kan voel as ‘n jong, pragtige vrou met die naam van Meghan Cremer ‘n baie duur prys betaal het nie. Mans en vroue.

Die nuus van haar moord maak dit ongelukkig baie moeilik om vandag Vrouedag te vier in Suid-Afrika. Die moord van elke vrou in Suid-Afrika maak dit moeilik om die dag te vier. Die realiteit is dat ons as vroue stelselmatig vordering gemaak het, maar nogsteeds en sal altyd ‘n baie duur prys betaal want ons almal kan nie eintlik sê dat ons vry voel in ‘n land soos Suid-Afrika nie. Ons was nooit daardie voorreg gegee om vry te kan voel as ons elke keer oor ons skouers moet loer of agter hoë mure moet bly vir veiligheid nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sal nogsteeds die dinge doen wat in my eerste paragraaf genoem is. Koffie drink, sjokolades eet en films kyk wat handel oor sterk en onafhanklike vroue, maar dit sal ek doen met ‘n baie swaar gemoed, want daar is vroue vandag wat nie daardie voorreg sal hê om dit te doen nie.

Meghan Cremer


Saturday, August 3, 2019

Crazy Land

Ons kla oor beloftes wat nooit nagekom is nie. Ons kla oor die korrupsie in die staat en ek sug uit pure irritasie as News24 Edge op my foon weereens nog ‘n berig skryf wat ek alreeds weet. Hierdie hele flippen staat is korrup. Ons kla oor die hoë kospryse, die petrolprys wat elke maand styg en die ekonomie wat goed in sy moer is in Suid Afrika, maar hey, troos jouself darem aan die feit dat jy twee pakke 5KG Omo waspoeier by Checkers kan kry vir goeie waarde.

Ons kla oor die onderwys stelsel. Ek sal somtyds en meestal altyd kla oor die kinders wat gelukkig is om met byna elke vakansiedag, nog ‘n vakansiedag daarna te kry en dit terwyl hulle kla oor hoe hard die lewe is. Dan sug ek. Want die lewe aan die anderkant van Hoërskool is een groot bitch so word groot my liewe mensies.

Ons kla oor die gesondheidstelsel wat nie altyd werk nie. Ons kla oor als wat in die lewe so damn duur is terwyl daar werklose mense in strate slaap in die middestad van Kaapstad. Daar is dae dat ek nie trots voel om ‘n Suid-Afrikaner te wees nie, veral as daar in die Parliament gebaklei en gevloek word.

Ons huil oor die moorde in ons land. Ons smeek die regering om iets daaromtrent te doen. Ek is gefrustreerd dat die regering al hierdie beloftes maak maar niks kom daarvan af nie. Die land huil as daar ‘n lyk van ‘n vrou of kind gekry word, iewers waar hul moordenaar dit gelos het. Die land is kwaad. Die feit is, die land word saam kwaad en daar is nie altyd ‘n uitsondering nie.

Ek begin hierdie inskrywing op ‘n uiterse negatiewe noot. Almal sou as hierdie idee in hul koppe ingespring het. Hierdie idee om diè inskrywing te doen was vir my op die ingewing van die oomblik, maar op die ou einde is ek nie spyt nie.

Want hierdie crazy land waarin ons is nogsteeds my huis. Die mense wat in hierdie land woon is my mense, ongeag waar hulle vandaan kom. Hierdie land en sy mense is die rede hoekom ek nogsteeds lief is vir dit, ten spyte van die negatiewe aspekte daarvan. Dit is lekker om hier te woon.

Waar anders kan ons smeek vir ‘n bietjie meer reën as die lande op die plase ‘n bietjie te droog is? Waar anders kan ons kla oor die kospryse wat so duur is, maar die Sunlight dishwashing liquid bly so flippen goedkoop by Pick ‘n Pay Hypermarket? Waar anders kan ons kla oor die onderwysstelsel, die gesondstelsels en watter ander stelsels daar ook al mag wees.

Hierdie crazy land en sy mense kla oor die Springbokke wat nie hard genoeg probeer het teen die All Blacks nie, en moenie eens begin by die Protea krieketspan nie! Maar troos jouself aan die feit dat die Blitzbokke ons trots sal maak met die Kaapstad 7s elke jaar. En dans ons mense asof niemand kyk nie. En als van dit geniet ten spyte van ons probleme.

Ons het die berge, ons het die see, ons het die wildtuine, ons het die parke en ons het die mooiste karoo landskappe waar soveel stories kan vertel en verfilm word. Ons het rede om darem ‘n bietjie trots te voel om ‘n Suid-Afrikaner te wees, ten spyte van dit als kap jy net aan. En as die lewe jou ‘n rugbypaal gee terwyl jy fietsry, kan jy altyd sê “my fok Marileze”. Of as die winde van teleurstelling oor jou lewe waai, veral as die Parliament’s Lede vuiste begin swaai en Jacob Zuma als ontken tydens die Zondo Kommissie, kan jy altyd soos ‘n Tannie van Bloemfontein tydens die Kaap van Storms sê maar “hier is ‘n vet fokop!”

Want so is die lewe in die Crazy land van ons. Ons kap aan en vat dit soos dit kom. Ek is nogsteeds baie lief vir Suid-Afrika en sal dit vir absoluut niks verruil nie. Nie eens vir ‘n miljoen nie.

Foto verskaf deur SA People


Sunday, July 28, 2019

In My Skoene

Ek dra ‘n grootte 6 skoen elke dag. Of ek plathak skoene dra, of hoë hak skoene wat vir my die grootste ongemak besorg en my laat loop soos ‘n eend, die grootte bly dieselfde ongeag watter skoen ek besluit om te dra. Die fliek, In Her Shoes, leer almal een van die waardevolste lesse van die lewe. Om altyd ander mense se lewens in perspektief te sien. Dit kan ‘n vriendin wees wie se kêrel haar afgesê het, of jou suster of niggie wat haar werk verloor het of ‘n nuwe hoofstuk begin in haar lewe. Almal het ‘n perspektief oor hoe die lewe werk. Of hoe ons die lewe sien. Altyd.

Ek moet sê dat dit moeilik was vanjaar om my skoene te loop hierdie jaar. Ek het ‘n vriend aan kanker verloor. Ek het my geliefde Jack Russel verloor ook. En bo als dit, moes ek vir ‘n operasie gaan in Mei om al vier my verstandtande te laat verwyder. En soos ek nou lê in my bed, het ek ligte griep wat my platgetrek het Vrydagoggend. Dinge het nie goed gegaan nie hierdie jaar nie, maar vandag gaan dinge aansienlik beter met my, ten spyte van die griep.

Dit sou vir mense moeilik gewees het om in my skoene te loop Dinsdag. Ek was vasgevang in die stormreën wat Dinsdag die Kaap gewoed het. My broek was sopnat gewees. Nog erger, my nuwe tekkies was sopnat gewees tot in my voete en ek moes vir byna ‘n uur loop met nat skoene en al. Gelukkig het ek ‘n ekstra paar skoene byderhand gehad. Dit was ongemaklik en koud gewees. Ek het die hele dag koud gekry weens die reën en koue. Ek het dit gehanteer met bekers warm tee.

Die bogenoemde is net ‘n vergelyking oor hoe moeilik dit is om in mense se skoene te loop. Dit is somtyds net ongemaklik en glibberig. Koud en al wat jy wil doen is om van skoene te verander om warm te bly, en dit saam met jou droeë klere. Dalk is jy ook lus vir daardie warm beker koffie of tee. Mense se peespektiewe werk ook so. Soms is dit warm. Soms is dit koud.

My perspektief van die lewe werk so. Ek sien dinge anders as wat sommige mense dit sal sien. Suid-Afrika is vrot van die korrupsie, misdaad, die swak ekonomie en stelsels wat nie altyd op ‘n korrekte manier gebruik nie. Plaasmoorde is ‘n ernstige probleem, asook die bendegeweld in die Kaapse vlakte. Ek lees nie net van die geweld in die plaaslike media nie, maar ek hoor dit van mense wat ek baie goed ken.

Die moorde op ons kinders is nog ‘n baie ernstige probleem wat aandag nodig het, en dit is nie net om daarvan te lees in die media nie, maar om daadwerklik iets daaromtrent te doen. Ek is van daardie mening dat elke liewe mens in Suid-Afrika deur misdaad geraak word. Die stelling word nie altyd baie goed ontvang nie en dit was ongelooflik hoe ek kras gekritiseer was daaroor. Maar, elke mens sien dinge vanuit ‘n ander perspektief.

Elke mens, ongeag sy agtergrond of wat sy of haar geskiedenis is, verdien liefde en respek. Niemand is beter as enige iemand anders nie. Ek het maaande terug dit genoem in ‘n blog Plekkie in die Son en ek staan by daardie punt. Daar is mense wat sal verskil van menings. Daar was ‘n tyd dat ek al gekritiseer was oor my stellings sonder dat die mense eintlik my perspektief probeer verstaan. Dit is nou okay met my, alhoewel dit nie eintlik was ‘n paar maande terug was nie.

Elke mens sien dinge verskillend. Hulle voel dinge verskillend. Hulle aanvaar dit so. Hulle het ‘n perspektief van dinge en leef daarvolgens. Ek het my perspektief. Ek sien ander mense se perspektief en dink somtyds dat dit nie altyd maklik kan wees om in hul skoene te loop nie. Dit is nooit maklik om in mense se skoene te loop wat swaargekry het nie. Ongelukkig is daar mense wat dit nie altyd verstaan nie. Want mense het net daardie tonnelvisie oor sekere dinge. Mense se skoene is ongemaklik om in te loop, want hul waarheid is ongemaklik vir ander mense om te aanvaar.




Saturday, July 27, 2019

Ietsie op die Hart

Ek het myself hierdie jaar belowe om weg te stap uit negatiewe situasies uit en mense te blok op sosisale media wat net een ding regkry en goed regkry ook. En dit is om my te ontstel en my kwaad te maak. Die beste is altyd om weg te stap vanuit ‘n negatiewe situasie wat jou siel vergiftig en jou dag onderstebo gooi, jou tyd saam met diè wat rêrig vir jou saakmaak versuur en so aan. Ek kan aangaan oor dit maar dit gaan niks verander wat die afgelope vier jaar met my gebeur het nie.

Navorsing sê altyd dit is altyd tieners wat in die kuberruim geboelie word. Tieners wat nie in die populêre groepie sal inpas nie al probeer hulle hoe hard. Hulle word name genoem op soos byvoorbeeld Twitter en Facebook. Vernederende fotos word op Instagram versprei of fotos word opgesit in Whatsapp groepe waar die hele skool dit kan sien. Hulle word sleggesê, afgekraak of beledig. Ek kan aan erger dinge dink wat met hulle gebeur wat ek nie in hierdie inskrywing gaan deel nie. Mense is grootliks onder die indruk dat net kinders en tieners geboelie en geteister word in die kuberruim.

Maar dit gebeur ongelukkig onder volwassenes ook. Volwassenes wat my insluit. Ja, ek is iemand wat daarin glo om uit te staan bo die res. Om uniek te wees en te baklei vir waarin jy vas glo. Ek is iemand wat opstaan vir slagoffers wanneer mense hulle blameer of afkraak op sosiale media. Ja, ongelukkig gebeur dit in die regte lewe. Daar is mense wat slagoffers sal afkraak. Slagoffers wat nie meer hier is saam met ons om hulself te verdedig nie. Ek weet my bloed kook van woede as ek sien hoe mense so aaklig kan wees teenoor ‘n onskuldige slagoffer. Ek sal opstaan en baklei vir hulle want dit is beslis iets wat hulle nie verdien nie.

Baie mense sal met my saamstem en saam baklei en vir dit waarin hulle glo. Ek is nie alleen nie wanneer dit kom by die geveg vir geregtigheid vir slagoffers en hul families nie. Maar ongelukkig kry jy altyd mense wat sal opstaan vir die moordenaar of krimineel en uit hul pad sal gaan om jou lewe moeilik te maak. Eintlik hel, want dit is hoe dit gevoel het die afgelope vier jaar.

‘n Bekende en voormalige Olimpiese atleet sit nou tans die tronk vir die moord op Reeva Steenkamp. Na ‘n lang moordsaak en stryd vir geregtigheid het 5 Appèlregters hom gevonnis vir ‘n verdere 13 jaar tronkstraf nadat hy eers aanvanklik maar net ‘n skamele 6 jaar gekry vir die moord. Nege regters van die grondwetlike hof het saamgestem met die SCA regters se vonnis. Ek sê altyd veertien regters met baie jare se ervaring tussen hulle kan sekerlik nie verkeerd wees nie. Maar ongelukkig sien nie almal dit altyd so nie, en ek het vir jare aaneen met so iemand te doen gehad.

As jy opstaan vir geregtigheid vir slagoffers, is dit die moeite werd vir jou as mens. Vir my is dit elke dag belonend om dit te doen wat ek doen. Om op te staan vir hulle want ek voel dat iemand soos ek moet hulle verdedig. Ongelukkig kom dit ook teen ‘n prys. Ek was vir vier jaar lank geteister juis omdat ek opgestaan het vir Reeva Steenkamp en nie haar moordenaar se weergawe geglo het nie. Dit als was deur een persoon gewees, wat ook haarself skuldig gemaak het dat sy Reeva swartgesmeer het op sosiale media. Ek is nie die enigste een wat dit gesien het en haar gekonfronteer het daaroor nie, daar is bewyse by my van meer mense wat haar al daaroor gekonfronteer het.

Ek was vir vier jaar aaneen geteister, geboelie en sleggemaak op sosiale media. Ek was op ‘n tyd so erg op Twitter geteister dat my eie familie begin bekommerd raak oor my en dat mense wat my volg op Twitter begin agterkom dat ek geboelie word. Ek is ook in besit van bewyse van ‘n valse beskuldiging dat ek dwelmgebruik goedkeur, iets wat geen gewig dra nie en iets wat die boelie in nog groter moeilikheid gebring het sou sy daardie beskuldiging teenoor iemand anders gemaak het. Daar was ongelukkig ook deur haar gewens dat daar iets geweldadigs met my familie moet gebeur. Dit is hoe erg dit gegaan het by tye.

Dinge het so erg gegaan dat sy vir maande my sleggemaak het op Twitter en selfs in haar eie blog, glo dit of nie. Wat vir my eintlik hartseer was omtrent die hele storie is dat sy die slagoffer probeer oortuigend speel om mense te laat glo dat ek die een was wat haar geteister het. Hartseer en mag ek sê lagwekkend ook? Ten spyte van bewyse teen haar en mense wat ek baie goed ken gesien het hoe sy my afgekraak het op sosiale media.

Dinge het te ver gegaan toe sy my op my verjaarsdag in haar eie blog afgekraak het. Dit was ook amper twee weke na my vriend se afsterwe aan kanker so die wonde daardie tyd was rou gewees en ek het ‘n bietjie weerloos gevoel. Met die Here se genade het ek nie direk op haar aanvalle gereageer nie, maar haar geblok van elke liewe sosiale media profiel waar ek kon, selfs op ‘n blog wat ek gehad het.

Ek het my kant van die saak gestel in ‘n paar inskrywings en dit daar gelos. Toe was dit stil vir ‘n paar maande en dinge het weer goedgegaan en vir ‘n verandering opgekyk vir my. Ek was deur ‘n baie moeilike paar maande met als wat gebeur het. Maar dinge is weer aan die gang en ek is op ‘n baie gelukkige tyd in my lewe. Tot nou toe.

Want dit wil voorkom asof dinge nooit rêrig op ‘n einde gekom het nie. Hierdie week het ek gewag en basies ander pad gekyk. Maar ek wil graag net my kant van die storie stel. Hoe dinge eintlik was en ek vermoed weer nou is nadat ek weer beskuldig is dat haar geboelie het.

Daardie beskuldiging is onwaar in alle aspekte van die situasie. Ek sal nie enige iemand ooit boelie of teister nie. Nie eens op sosiale media nie. Daar is genoeg mense wat my baie goed ken om daardie stelling te kan staaf. Ek het eenvoudiglik nie die tyd daarvoor nie. Dit is nie in my persoonlikheid om op sosiale media elke dag te gaan om mense te boelie nie.

Vandag moes ek hierdie van my hart af kry want daar is dae wat ek nie eintlik weet watter kant toe nie. Ek moes my kant van die storie vertel voordat daar nog onware feite op die sosiale media platforms verskyn. Ek moes die ware feite neerlê voordat mense die boelie begin glo en te glo dat ek iets is wat ek beslis nie is nie.

Ek kan myself troos in die feit mense my ken as iemand wat omgee en ‘n baie groot hart het. Ek is nie maklik bitter of wraakgierig nie. Ek vergewe maklik en laat dinge gaan soos dit moet wees. Daar is mense wat my baie goed ken om nie te glo wat daar gesê word van my op sosiale media nie, en tot vandag toe is dit goed genoeg vir my


Friday, July 26, 2019

Wie Ek Is

Weens onvoorsiene omstandighede waaaroor ek eerder nie in hierdie inskrywing wil bespreek nie, moes ek “trek” na ‘n nuwe blog-tuiste toe. Dus hoekom ek vandeesweek hier begin skryf met die hoop dat ek my ervarings met julle kan deel. So hier begin dit. Dit is wie ek is:

Ek is in Februarie 1982 in Kaapstad gebore. Ek het in Kaapstad skoolgegaan, grootgeword en bly my hele lewe lank nog hier. Ek het ‘n voltydse werk, het ‘n liefdevolle familie en ek is “ma” van ‘n pragtige labrador. Ongelukkig het my Jack Russel, Roxy, in Maart gesterf en ek mis haar elke dag. Ek is ook ‘n trotse Tante van ‘n pragtige niggie.

Ek is lief daarvoor om tyd saam met my familie te spandeer, saam met my vriende te kuier, baie te lees, baie flieks te kyk en reekse te volg op Netflix. Ek is ook lief daarvoor om te blog en bestuur ‘n paar blogs op sosiale media. My doel is met hierdie blogs is om ‘n verskil te maak in die lewens van mense wat nie altyd so gelukkig is nie. Ek hou ook daarvan om positiewe nuus te deel wat ‘n warm gevoel in my hart los en my trots maak om ‘n Suid-Afrikaner te wees.

Ek was vanjaar deur baie diep waters gewees. Ek glo ook dat wat jy daarvan maak is presies wie jy is. Ek is beslis vandag sterker as wat ek was ‘n paar maande gelede, maar ek glo ook elke mens is wat ek sal noem ‘n work in progress. Almal is dit. Ek glo ook beproewinge is toetse wat jy óf slaag of druip. Dit is jou keuse alleen wat jy daarmee maak.

Ek glo vas daaraan om jou lewe te lei sonder enige verskonings of verduidelikings. Ek skuld niemand ‘n  verduideliking of ‘n verskoning wie ek is vandag nie. Wie ek is vandag. Is ek ‘n aktivis op soeke na geregtigheid? ‘n Mens kan dit so noem. Wil ek ‘n stem wees vir elke slagoffer wat nie vir haarself kan praat nie?  ‘n Besliste ja. Is ek trots om ‘n Suid-Afrikaner te wees? Ja, veral wanneer daar mense is wat ‘n verskil in dié maak in ander se lewens.

Ek is trots Suid-Afrikaans en is lief vir hierdie land met sy mense in dit. Ek is lief vir kinders en mal oor diere. Dit maak my hartseer as mense kinders en diere seermaak. Dit maak my hart bly as daardie verlore hond of kat sy vir ewige huis kry.

Ek is lief daarvoor om Saterdae oggende koffie te drink en musiek te luister. Enige iets van Sheryl Crow, Karen Zoid, Jordan Brooker en KT Tunstall. Ek is mal oor skrywers soos Jodi Picoult en Kirsten Hannah, asook om te lees oor interesante mense.

Dit is wie ek vandag is. Ek glo vas om net jouself te wees en vreesloos te wees oor wie jy is as mens. Moet nooit jouself en jou persoonlikheid opoffer net omdat mense ‘n probleem het daarmee. Ek is ‘n sweetpakbroek en tekkies-tipe mens wat haar voete skeef trap wanneer sy hoë hakke dra. Ek verpes rokke en verkies ‘n jean bo enige rok.

Ek verpes skynheiligheid van mense en oneerlikheid. Ek haat dit ook as mense neersien op ander mense en glo dat elke mens ‘n plekkie in die son verdien. Mense verdien respek en liefde, ongeag waar hy of sy vandaan kom.
My raad is altyd: Leef jou reis soos wat jy dit beplan, en nie volgens iemand anders s’n nie. Jy is nie gemaak om ander mense se standaarde na te kom nie. Leef volgens jou eie standaarde. Wees net jouself en die regte mense sal dink jy is awesome.



Vir Die Linkses

Op Dinsdag, 13 Augustus 2019, het die wêreld hulde gebring aan die linkshandige mense wat uit so om en by 10% van die wêreldbevolking bestaa...